Gaan na inhoud

Tate-LaBianca-moorde

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Die Tate-LaBianca-moorde was 'n reeks moorde deur lede van die Mansonbende van 8-10 Augustus 1969 in Los Angeles, Kalifornië, in opdrag van Tex Watson en Charles Manson. Vyf mense is in die nag van 8 op 9 Augustus vermoor: die swanger aktrise Sharon Tate (wie se fetus dood is weens die aanval) en haar gaste Jay Sebring, Abigail Folger, Wojciech Frykowski en Steven Parent. Die volgende aand het die bende ook die uitvoerende beampte van 'n supermark, Leno LaBianca, en sy vrou, Rosemary, in hulle huis in die Los Feliz-deel van Los Angeles vermoor.[1][2][3]

Op die nag van 8 op 9 Augustus het vier lede van die Mansonbende – Watson, Susan Atkins, Patricia Krenwinkel en Linda Kasabian – van hulle woonplek, Spahn Ranch, gery na Cielorylaan 10050 in Benedict Canyon, die huis van Sharon Tate en haar man, die regisseur Roman Polanski. Die groep het Tate, wat agt en 'n halwe maande swanger was, vermoor asook haar gaste, Jay Sebring, 'n haarkapper van die sterre; Abigail Folger, 'n koffie-erfgenaam; haar kêrel, Wojciech Frykowski, 'n aspirantdraaiboekskrywer; en Steven Parent, 'n 18-jarige besoeker. Polanski het in Europa aan 'n rolprent gewerk. Manson was 'n kultusleier en aspirantmusikant wat 'n kontrak probeer kry het by die musiekvervaardiger Terry Melcher, wat die huis voorheen gehuur het.

Die volgende nag het dié vier mense, asook Manson, Leslie van Houten en Steve "Clem" Grogan, nog twee moorde gepleeg. Manson het na bewering vir hulle gesê hy sal hulle "wys hoe dit gedoen word".[4]:176–184, 258–269[5] Nadat hulle verskeie opsies oorweeg het,[4]:258–269 het Kasabian met die groep na Waverlyrylaan 3301 in Los Feliz gery, waar die LaBiancas gewoon het.[4]:22–25, 42–48 Manson is daar weg saam met Atkins, Grogan en Kasabian. Watson, Krenwinkel en Van Houten het die egpaar in die vroeë oggendure van 10 Agustus vermoor.

Tate-moorde

[wysig | wysig bron]
Die huis in Palm Springs wat aan Sharon Tate behoort het.

In die nag van 8 Augustus 1969 het Tex Watson vir Susan Atkins, Linda Kasabian en Patricia Krenwinkel na Cielorylaan 10050 in Benedict Canyon, Los Angeles, geneem. Watson het beweer Charles Manson het hom opdrag gegee om na die huis te gaan en almal daarin "heeltemal te vernietig" en om dit "so wreedaardig moontlik" te doen.[4]:463–468[6] Manson het aan die vroue gesê om te doen wat Watson sê.[4]:176–184, 258–269

Die mense wat dié aand in die huis was, is die aktrise Sharon Tate, wat agt en 'n halwe maande swanger en die vrou van die regisseur Roman Polanski was; haar vriend en voormalige minnaar, Jay Sebring, 'n bekende haarstlis van die sterre; Polanski se vriend Wojciech Frykowski; en Frykowski se meisie, Abigail Folger, die erfgenaam van die Folger-koffiefortuin en dogter van Peter Folger.[4]:28–38 Ook op die perseel was William Garretson, die opsigter, en sy vriend Steven Parent. Polanski het in Europa aan 'n rolprent gewerk.

Watson en die drie vroue het op 9 Augustus net ná middernag by Cielorylaan aangekom. Watson het met 'n telefoonpaal naby die ingang opgeklim en die telefoonlyne na die huis afgesny.[7] Die groep het hulle motor aan die voet van die heuwel gaan parkeer en teruggestap na die huis. Hulle het gedink die hek is geëlektrifiseer of aan 'n alarm gekoppel, en hulle het dus 'n beboste wal regs van die hek uitgeklim.[4]:176–184 Kopligte het op die erf in hulle rigting aangekom en Watson het die vroue aangesê om in die bosse te gaan lê. Hy het vorentoe gestap en die aankomende bestuurder beveel om stil te hou. Steven Parent het die eiendom se opsigter, William Garretson, besoek wat in die gastehuis gewoon het. Watson het die jong man eers met 'n mes aangeval en hom toe vier keer in die bors en maag geskiet. Hy is in sy motor dood. Watson en die vroue het die motor verder met die oprit op gestoot.[4]:22–25[6]

Watson het daarna die skerm voor 'n venster oopgesny, deur die venster geklim en Atkins en Krenwinkel by die voordeur ingelaat.[4]:176–184 Kasabian het by die hek waggehou. Watson het aan Atkins gefluister en Frykowski, wat op die sitkamerbank geslaap het, wakker gemaak deur hom teen die kop te skop.[6] Frykowski het gevra wie hy is en wat hy daar doen. Watson het geantwoord: "Ek is die duiwel en is hier om die duiwel se werk te doen."[4]:176–184[6]

Sharon Tate in die rolprent Valley of the Dolls (1967).

In opdrag van Watson het Atkins die ander drie mense in die huis met Krenwinkel se hulp opgespoor[4]:176–184, 297–300 en hulle na die sitkamer gedwing. Watson het Tate en Sebring saam aan hulle nekke vasgebind en die tou oor een van die plafonbalke gegooi. Sebring het protes aangeteken teen die rowwe manier waarop die moordenaars die swanger Tate behandel, en Watson het hom geskiet. Folger is eers na haar slaapkamer gebring om haar beursie te kry en het die moordenaars $70 gegee. Watson het Sebring toe sewe keer gesteek.[4]:28–38[6]

Frykowski se hande is met 'n handdoek vasgebind, maar hy het losgekom en met Atkins begin stoei.[6] Hy het by die voordeur uit tot op die stoep gevlug, maar Watson het hom ingehaal, met 'n vuurwapen oor die kop geslaan, 'n paar keer met 'n mes gesteek en twee keer geskiet.[6]

Kasabian het "angswekkende geluide" gehoor en van die hek na die huis geloop. Sy het vir Atkins gesê iemand is aan die kom in 'n poging om die moorde stop te sit.[4]:258–269[6] In die huis het Folger van Krenwinkel ontsnap en by 'n slaapkamerdeur uit na die swembadarea gevlug.[4]:341–344, 356–361 Krenwinkel het haar ingehaal, haar gesteek en na die grond geduik. Watson het haar help doodmaak; sy is altesaam 28 keer gesteek.[4]:28–38[6] Frykowski het na die grasperk gesukkel, maar Watson het hom doodgesteek. Frykowski het 51 steekwonde gehad en hy is 13 keer met 'n vuurwapen oor die kop geslaan – so hard dat die loop gebuig en 'n deel van die wapen afgebreek het. Dit is later op die toneel gevind.[4]:28–38, 258–269[6]

In die huis het Tate gesmeek dat hulle haar lank genoeg spaar sodat sy die lewe kan skenk en het haarself as 'n gyselaar beskikbaar gestel in 'n poging om die lewe van haar ongebore baba te red. Beide Atkins en Watson het Tate egter vermoor deur haar 16 keer met messe te steek.[4]:28–38 Volgens Watson het Manson aan die vroue gesê "om 'n teken te los – iets hekserigs".[6] Atkins het "vark" in Tate se bloed teen die voordeur geskryf.[4]:84–90, 176–184[6] Atkins het agterna beweer sy het dit gedoen in 'n na-apery van die moordtoneel van Gary Hinman in 'n poging om 'n ander bendelid, Bobby Beausoleil, uit die tronk te kry waar hy vir die moord aangehou is.[4]:426-435 Beausoleil het "politieke varkie" in Hinman se bloed teen die muur geskryf nadat hy hom doodgesteek het.[4]:35,91-96,99-113

LaBianca-moorde

[wysig | wysig bron]

Die vier moordenaars het die volgende aand saam met Manson, Van Houten en Grogan gaan ry. Manson was na bewering ongelukkig oor die paniek en vlugtog van die vorige nag se slagoffers. Hy het Kasabian aangesê om na die huis by Waverlyrylaan 3301 in Los Feliz te ry. Dit was langs 'n huis waar Manson en ander bendelede die vorige jaar 'n partytjie bygewoon het[4]:176–184, 204–210 en het behoort aan die uitvoerende beampte van 'n supermark, Leno LaBianca, en sy vrou, Rosemary, mede-eienaar van 'n rokwinkel.[4]:22–25, 42–48

Volgens Atkins en Kasabian het Manson met die oprit op verdwyn. Toe hy terugkom, het hy gesê hy het die inwoners van die huis vasgebind. Watson, Krenwinkel en Van Houten het toe ingegaan.[4]:176–184, 258–269 Watson het in sy outobiografie beweer Manson het eers alleen gegaan en het hom toe kom haal om saam met hom te kom. Manson het deur die venster na 'n slapende man gewys en die twee het deur die ongesluite agterdeur na binne gegaan.[5][8] Watson het beweer Manson het die slapende Leno LaBianca wakker gemaak terwyl hy 'n wapen op hom rig, en hy en Watson het sy hande met 'n leerriem vasgebind. Rosemary is uit die slaapkamer na die sitkamer gebring en Watson het kussingslope oor die egpaar se gesigte getrek en met lampkoorde vasgebind. Manson is weg, en Krenwinkel en Van Houten het by die huis ingekom.[4]:176–184, 258–269[5]

Watson het die vroue uit die kombuis gestuur na die slaapkamer, waarheen Rosemary LaBianca teruggeneem is. Hy is na die sitkamer, waar hy Leno LaBianca met 'n verchroomde bajonet gesteek het. Die eerste steek was in sy keel.[5] Watson het 'n gestoei gehoor en is na die slaapkamer, waar hy gesien het Rosemary hou die vroue van haar af weg deur die lamp te swaai wat om haar nek gebind is. Hy het haar verskeie kere met die bajonet gesteek en daarna na die sitkamer gegaan waar hy voortgegaan het met sy aanval op Leno, wat hy altesaam 12 keer gesteek het.[5] Hy het toe die woord "OORLOG" in sy maag uitgekerf.[5]

Watson het na die slaapkamer teruggekeer en gesien hoe Krenwinkel Rosemary met 'n kombuismes steek.[5] Van Houten het haar sowat 16 keer in die rug en boude gesteek.[4]:204–210, 297–300, 341–344 Van Houten het tydens die verhoor[4]:433 beweer Rosemary was toe reeds dood. Bewyse het getoon baie van die 41 steekwonde is inderdaad nadoods toegedien.[4]:44, 206, 297, 341–42, 380, 404, 406–07, 433 Watson het daarna die bajonet skoongemaak en gestort, terwyl Krenwinkel "Staan op" en "Dood vir varke" teen die mure en "Healter [sic] Skelter" op die yskasdeur geskryf het, alles in LaBianca se bloed. Sy het Leno 14 keer geprik met 'n kerfvurk, wat sy daarna in sy maag gesteek het. Sy het ook 'n steakmes in sy keel gesteek.[4]:176–184, 258–269[5]

Manson het intussen die drie ander bendelede wat dié aand saam met hulle by Spahn Ranch weg is na Venice, Los Angeles, geneem na die woonstel van die Libanese akteur Saladin Nader. Manson het hulle daar gelos en teruggery na Spahn Ranch. Hulle en die LaBianca-moordenaars moes huis toe ryloop.[4]:176–184, 258–269 Volgens Kasabian wou Manson hê sy volgelinge moes Nader vermoor, maar sy het glo die moord in die wiele gery deur met opset aan die verkeerde deur te klop. Hulle het 'n vreemdeling wakker gemaak en die groep het van die moordplan afgesien.[4]:270–273

Vonnisse

[wysig | wysig bron]

Die vyf moordenaars  – Atkins, Krenwinkel, Manson, Van Houten en Watson  – het elk tereggestaan en is gevonnis vir hulle aandeel in die Tate-LaBianca-moorde. Almal het aanvanklik die doodstraf gekry, maar die hooggeregshof van Kalifornië het in 1971 die doodstraf ongrondwetlik verklaar en hulle vonnisse is saam met dié van baie ander gevangenes versag tot lewenslange gevangenisstraf, met die moontlikheid van parool.[9]

  • Susan Atkins (1948-2009): Atkins was in die tronk tot met haar dood in 2009 op 61 aan breinkanker. Met haar dood was sy Kalifornië se vroulike gevangene wat die langste in die tronk was. Sy is 14 keer parool geweier.
  • Patricia Krenwinkel (gebore 1947): Krenwinkel is steeds in die tronk. Ná Atkins se dood in 2009 is sy nou die vroulike gevangene in Kalifornië wat die langste in die tronk is.[10] Sy is 14 keer parool geweier, waarvan die laaste keer in 2017 was.
  • Charles Manson (1934-2017): Manson was in die tronk tot met sy dood op 19 November 2017 weens hartstilstand as gevolg van asemhalingsversaking en kolonkanker.[11] Hy was net ouer as 83 en het al die jare van sy lewe buiten 13 in die een of ander soort inrigting deurgebring. Hy is 12 keer parool geweier.
  • Leslie van Houten (gebore 1949): Toe sy in 1971 op 21-jarige ouderdom gevonnis is, was Van Houten die jongste vrou nog in Kalifornië wat ter dood veroordeel is, asook die jongste lid van die Mansonbende wat aan moord skuldig bevind is.[12] Sy is nog in die tronk en is 22 keer parool geweier, die laaste keer in 2019.[11]
  • Charles "Tex" Watson (gebore 1945): Watson is steeds in die tronk. Hy is 17 keer parool geweier, waarvan die laaste keer in 2021 was. Terwyl hy toegesluit was, het Watson beweer hy het 'n herbore Christen geword.[11]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Romano, Aja (7 Augustus 2019). "The Manson Family murders, and their complicated legacy, explained". Vox. Besoek op 28 Maart 2021.
  2. "Sharon Tate Autopsy" (PDF).
  3. "People V. Manson".
  4. 4,00 4,01 4,02 4,03 4,04 4,05 4,06 4,07 4,08 4,09 4,10 4,11 4,12 4,13 4,14 4,15 4,16 4,17 4,18 4,19 4,20 4,21 4,22 4,23 4,24 4,25 4,26 4,27 4,28 4,29 Bugliosi, Vincent with Gentry, Curt. Helter Skelter: The True Story of the Manson Murders 25th Anniversary Edition, W. W. Norton & Company, 1994. ISBN 0-393-08700-X.
  5. 5,0 5,1 5,2 5,3 5,4 5,5 5,6 5,7 Watson, Charles. "Will You Die For Me?, Hoofstuk 15". Abounding Love Ministries. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 April 2007. Besoek op 13 Julie 2019.
  6. 6,00 6,01 6,02 6,03 6,04 6,05 6,06 6,07 6,08 6,09 6,10 6,11 "Watson, Ch. 14". Aboundinglove.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 November 2010. Besoek op 28 November 2010.
  7. Watson, Charles as told to Ray Hoekstra. "Will You Die for Me?". aboundinglove.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 April 2007. Besoek op 3 Mei 2007.
  8. Watson, Charles. "Will You Die For Me?, Ch. 19". Abounding Love Ministries. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 April 2007. Besoek op 13 Julie 2019.
  9. "California Court Bars Death Penalty". Milwaukee Journal. Associated Press. 18 Februarie 1972.[dooie skakel]
  10. Woo, Elaine (26 September 2009). "Susan Atkins dies at 61; imprisoned Charles Manson follower". Los Angeles Times. Besoek op 15 November 2012.
  11. 11,0 11,1 11,2 Where Are Charles Manson's 'Family Members' Now? While Most Are Still in Prison, Some Live Normal Lives
  12. Leslie Van Houten Was A 19-Year-Old Homecoming Queen When She Met Charles Manson

Skakels

[wysig | wysig bron]